Haai eet sy been, maar . .. 

Haai eet sy been, maar . .. 

Hy hardloop, duik – en vlieg

Vier maande nadat ’n Suid-Afrikaanse helikopter­vlieënier gesien het hoe ’n tierhaai deur die branders breek met sy bloederige been in die kake, het hy weer agter die kontroles van ’n helikopter ingeskuif.

Wat Kevin Ellis (37) se herstel selfs nog merkwaardiger maak, is dat die haaiaanval op 19 Augustus verlede jaar aan die kus van die oorlog-sat Somalië gebeur het, waar mediese sorg erg gebrekkig of heeltemal afwesig is.

Maar danksy ’n ysere wil, goeie vriende en ’n bietjie geluk floreer dié avonturier nou – en duik hy selfs al weer tussen die haaie.

Ellis het selfs pas sy vlieg­-mediese toetse by die Burgerlugvaartowerheid geslaag.

“Ek het nooit vir een enkele oomblik getwyfel dat ek gaan vlieg nie. Ek het dit gemáák gebeur,” het Ellis die afgelope week aan Rapportvertel en die nagmerrie van Augustus in herinnering geroep.

Hy het ná werk in Mogadisjoe, Somalië se hoofstad, gou in die see gaan swem om af te koel toe hy iets teen sy regterbeen voel skuur en sy hand in die water druk.

“Ek het aan ’n growwerige oppervlak gevat en gedink dis ’n rots. Die volgende oomblik het die haai my linkerbeen beetgekry en deur die oppervlak gebreek.

“My been was binne sekondes afgebyt en ek het besef ek moes vlug vir al wat ek werd is.”

Somaliërs op die strand het hom uit die water gehelp. Kevin het vreeslik gebloei en moes dringend by ’n hospitaal kom.

Hy kon egter nie sy motorsleutels kry nie. Omstanders het sy motor oopgebreek, maar die sleutels was skoonveld.

Verstommend genoeg was ’n ambulans tien minute later op die toneel – byna ’n wonderwerk in ’n oorloggeteisterde stad waar terreuraanvalle en ontploffings aan die orde van die dag is.

Ellis, wat mediese noodhelikopters vir Everett Aviation en die Verenigde Nasies (VN) in Mogadisjoe gevlieg het, is by die VN se traumakliniek gestabiliseer en die volgende dag na Kaapstad gevlieg.

Die been is uiteindelik net bokant die knie geamputeer.

Enkele dae later was hy tuis by sy vrou, Janine, en hul tien maande oue dogtertjie, Freya.

Kevin, wie se pa, Neall, ’n legendariese helikoptervlieënier was in haas elke konflik in Afrika en wat ’n yslike bydrae tot sy seun se onverskrokke wilskrag gelewer het, wou so vinnig as moontlik herstel.

Hy was immers vroeër ’n aktiewe fietsryer, avonturier en drawwer.

In November het hy sy eerste kunsbeen gekry en weer begin loop. Dié se knie het hy flenters geval toe hy sy fiets opgesaal het.

“Die rehabilitasiespan by die Vincent Pallotti-hospitaal was ewe gelate en het vir my ’n beter been gemaak wat makliker beweeg het,” vertel hy.

Intussen het sy beste vriend en kollega wat destyds in die lugmag saam met hom leer vlieg het, Ryan Shrives, ’n geldinsamelingsveldtog begin om vir Kevin die beste “vliegbeen” te kan koop.

Bykans R300 000 is só deur vlieëniers, vriende en kennisse ingesamel sodat Ellis die spoggerige kunsbeen van R1 miljoen kon bekostig.

Nou kan hy hardloop, fiets- en motorfiets ry en sy motor is nie eens spesiaal aangepas nie.

“Daardie been het vir my my vliegloopbaan teruggegee. Dit was weliswaar ’n aanpassing om weer te vlieg, want jou voetkontroles is deel van helikoptervlieg. Ek moes leer om met my maagspiere die kunsvoet en die kontroles te beheer.”

Kevin se merkwaardige herstel het gemaak dat sy prostetikus, Jayson Chin, en Theo Kriel, die vervaardiger van die been, ’n spesiale promosievideo oor hom gemaak het.

“Kevin is die merkwaardigste pasiënt wat ons nog ooit gehelp het. Mislukking was vir hom geen opsie nie. Hy het van meet af elke stukkie raad ernstig opgeneem, die terapie deurgegaan en self navorsing gedoen oor wat hy in sy kunsbeen wou hê.

“Dit is ook die duurste prostese wat ons tot nog toe gemaak het. ­Kevin wou ’n waterdigte been hê waarmee hy kon duik en rotsklim. Sedertdien duik hy beter as ooit en kom vertel ons van die mooiste haaie wat hy onder die water gesien het! Hy is in ’n ander liga.

“Sy ingesteldheid is fenomenaal tot op die punt waar hy die span wat hom help rehabiliteer het, ook aangespoor het om saam met hom die ekstra myl te stap,” sê Chin.

Tot hy vliegfiks is, is Kevin by Everett se kantoor in Dar-es-Salaam in Tanzanië gebaseer. Dié keer is sy vrou en kind saam met hom daar.

“My vrou is my rots en dapper daarby.

“ ’n Kunsbeen maak nie van ’n mens ’n gestremde nie, maar jou kop . . . As jou kop reg is, kan jy enigiets vermag.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*